Skip to main content
Leier Toerusting

3 Goed waarmee tiener kleingroepleiers sukkel

By November 10, 2017No Comments

Die meeste tienerbedienings maak staat op vrywilligers as groepleiers vir hul kleingroepe. Hierdie vrywilligers is ook gewoonlik ywerige mense wat kom aanmeld omdat hulle op ’n manier oortuig is deur die Here dat hulle die gemeente op hierdie manier moet dien. Dit is selde mense met opleiding of fasiliteringsvaardighede of meer ervaring as hul eie “Sondagskool” of CSV.

Die meeste kategese materiaal is ook afhanklik van gesprek en interaktiewe aktiwiteite wat deel vorm van groter gefasiliteerde proses. Wanneer jeugwerkers of predikante dan verby ’n groep stap, is dit gewoonlik die kleingroepleier wat met die kinders gesels… en ’n paar minute later steeds die kleingroepleier wat gesels… en paar minute later het die graad 9 seuns of aan die slaap geraak of mekaar met papierballetjies gegooi.

Die rede hiervoor is dat kleingroepleiers sukkel met ’n paar goed.

1.  Proses

Kleingroepleiers is nie altyd bewus van die groter proses van geloofsvorming nie. In die verlede was die klem sterk groot op kennis oordrag en die doelwit was om Bybelkennis onder die knie te kry (onthou jy Sondagskool eksamens?) Vandag volg ons groter prosesse wat soms eenmalig verduidelik word en daarna geïmpliseer word. Dis belangrik om kleingroepleiers gereeld te herinner aan die groter proses en hoekom dit interaktief en gespreksgedrewe bly.

Wat doen jy daaraan?

Kommunikeer by alle opleiding geleenthede die proses. Hoekom doen julle gemeente wat julle doen op die manier wat julle dit doen? Moet nooit aannames maak dat die kleingroepleiers dit sal onthou en implementeer nie.

2.  Leerstyle en persoonlikheid

Kleingroepleiers funksioneer gewoonlik uit hul eie leerstyle en persoonlikheidstipe en sukkel soms om te onthou dat daar soveel kombinasies van leerstyle en persoonlikheid is as wat daar jongmense in jou groep is. Tradisionele kennis oordrag was baie gestruktureerd en logies, wat daarom mense wat gestruktureerd en logies dink en funksioneer trek – daarom is dit baie kere maklik vir so persoon om net logies en gestruktureerd die inhoud oor te dra. Verskillende leerstyle en persoonlikheidstipes vereis verskillende benaderings om leer en geloofsvorming optimaal te funksioneer.

Wat doen jy daaraan?

Gebruik een volle opleidingsessie om ’n persoonlikheidstoets met die kleingroepleiers te doen en rollespel oor hoe verskillende persoonlikheidstipe en leerstyle in groepe funksioneer. Dis gewoonlik ook ’n goeie spanbou geleentheid. ’n Webtuiste soos https://www.16personalities.com/ het ’n eenvoudige, gratis toets met eenvoudige, duidelike verduidelikings. (Gebruik professionele en kundige mense in jou gemeente hiervoor as jy kan.)

3.  Stilte

Ons is oor die algemeen ongemaklik met enige stilte, selfs vir mense wat stilte verkies. In ’n groep opset veroorsaak stilte, veral by meer ekstrovert persoonlikhede, baie ongemak. Wanneer jongmense onseker is, is hulle geneig om stil te bly en gewoonlik spring die kleingroepleier in met die antwoord. Wanneer dit herhaaldelik gebeur begin die jongmense net wag sodat die groepleier op die ou end die “regte” antwoord gee.

Wat doen jy daaraan?

Spandeer gereeld tyd aan gespreksvaardighede, veral die kuns van oop vraagstelling en konstruktiewe stilte. Hierdie is vaardighede wat gedemonstreer en ingeoefen moet word.

Omdat vrywilligers gewoonlik beperkte ervaring het, is dit nodig om meer as een maal per jaar ’n opleiding sessie te hou. Voorbeeld en oefening help vrywilligers om die vaardighede te ontwikkel en te internaliseer, sodat hulle deelnemers word aan jongmense se geloofsvorming en nie bloot kennis-oordrag doen nie.

Christi Thirion (NG Kenridge)