Skip to main content
Huisgeloof Argief

2 Korintiërs 9:7

By June 19, 2024No Comments

Dag 6: Connect met God

Gee 

Eendag staan ek in Spar, besig om gaar kos vir  my en my man te bestel.  Daar kom staan ‘n man langs my en bestel twee stukkies hoender en vra wat dit kos.  Die vrou gee vir hom die prys, hy kyk na sy geld in sy hand en vra toe sy moet asb 1 stuk terugsit.  Ek het geweet die rede daarvoor is omdat hy nie genoeg geld gehad het nie.  Ek wou vir hom sê ek wil dit vir hom betaal en hy moet albei vat, want ek kon sien hy is baie honger. Maar daardie dag, het ek vir een of ander onverklaarbare rede stilgebly en met my goed aangegaan.  Dit het my vir baie lank gepla en ek het vir ‘n tyd verder van God af gevoel. Nie omdat ek was nie, maar omdat ek die teenoorsgestelde gedoen het as wat God van ons vra: As jy het om te gee, gee… 

‘n Mens hoor altyd hoe mense  sê dit voel beter om iets vir iemand te gee as om iets te ontvang.  Dalk stem sommige mense nie saam nie, maar ek stem saam met daardie woorde. Ek weet, as ek daardie dag vir daardie man die geld gegee het om albei stukke hoender, of nog meer, te koop, sou ek meer connected aan die Here gevoel het, omdat dit is Wie Hy is.  Hy is ‘n Gewer… En dit is wat Hy ons roep om te doen…om te gee. 

Kom ons lees saam in 2 Kor 9:7 

7 ”Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.” 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Watter gedagtes kom eerste by jou op wanneer jy hierdie teks lees? 
  2. Hoe maklik gee jy? 

Kom ons bid saam.

Here, help my om met ‘n dankbare hart vir ander te gee.

Amen 

Doen nou die volgende saam:  

Groet mekaar met die woorde:  “Gaan uit en gaan gee waar jy kan.” Herinner mekaar deur die dag daaraan en deel die aand met mekaar hoe julle dag was rondom hierdie opdrag.

Die Here sal by julle wees en julle lei orals waar julle gaan. Amen 

Leave a Reply