Skip to main content

1. Ons almal reageer verskillend
Ons het verskillende emosies, ons verwerk trauma op verskillende maniere en op ons eie tyd. Moet daarom nie in hierdie tyd mekaar oordeel omdat iemand “nie emosies wys nie” of “oorreageer” nie. Verstaan ook dat ons nie almal in hierdie tyd ons beste kant wys nie. Wees geduldig met mekaar en wees sag met mekaar.

2. Kyk uit vir mekaar
Kry mediese of sielkundige ondersteuning as iemand tekens toon dat hulle ekstra hulp nodig het, byvoorbeeld hulle kan nie slaap, eet of funksioneer nie of hulle raak obsessief oor die trauma; of hulle toon onlogiese vrese of kan aan niks anders dink nie, ensovoorts.

3. Wees eerlik met kinders
Moenie vir kinders onnodige gedetailleerde inligting gee van die gebeure nie. Ons kan kinders se ervaring van trauma onnodig verdubbel deur telkens voor hulle meer van die besonderhede te bespreek. Moet egter nooit jok nie, maar hou ook die kinders se ouderdom in gedagte. Onthou dat hulle fyn luister, jou spanning kan aanvoel en ook gesprekke afluister wanneer volwassenes met mekaar gesels.

4. Gee vir almal, veral kinders, die geleentheid om vrae te vra
Moenie ongeduldig raak as kinders oor en oor wil hoor of iemand regtig oorlede is nie. Dit is hulle manier om die skokkende inligting te internaliseer. Hulle mag dalk goed gehoor het wat hulle verwar en ontstel. Gee hulle gereeld geleentheid om vrae te vra.

5. Nie almal kan maklik praat of emosies verwoord nie
Kinders kan egter ook teken, na ‘n storie luister of iets prakties doen om te help (kaartjies maak of ‘n pakkie opmaak). En dieselfde geld vir volwassenes. Nie almal kan maklik daaroor gesels nie, maar hulle kan dalk musiek luister, skryf, iets diensbaar doen, gaan oefen, of stil raak by God om emosies te verwerk.

6. Skep intensioneel geleenthede vir jouself en ander om saam te kom en saam te wees. Wanneer ons só saamgesels en introspeksie doen, help dit ons om ons emosies en ervarings te verwoord en te verwerk. Dit is ook dan wanneer ons kan ontdek en onthou dat God by ons is in hierdie tyd en ons geloof vorm.

7. Vermy clichés en soetsappige verduidelikings
Moenie vinnige of oppervlakkige antwoorde probeer gee nie. Woorde soos “God het hiermee ‘n plan” of “God pluk sy mooiste blommetjies” kan meer skade as goed doen. Ons hoef nie die lewe se grootste trauma en pyn te verklaar nie. Ons kan bloot erken dat God by ons is en ons dra, al verstaan ons nie alles nie.

8. Bid in hierdie tyd al het jy nie eintlik woorde nie. Bid ook vir mekaar. Ons kan eerlik ons emosies, vrae en twyfel met mekaar en God deel. Ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur nie, en ons mag selfs vir God kwaad wees. Dit alles is deel van ons egte geloofservaring.

9. Doen iets simbolies saam soos om ‘n boom te plant, klippe te pak, ‘n kers aan te steek of tot bo-op ‘n koppie te klim. Hierdie is ‘n manier om die geliefdes te onthou en om te erken God is by ons. En dit is ‘n visuele herinnering aan die gebeurtenis.

10. Koördineer praktiese ondersteuning sodat dit op die regte tyd en manier kan gebeur. Langer termyn ondersteuning vir families wat verlies ervaar, kan beter wees as om alle hulp op een slag te kry.

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

 

Leave a Reply